Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 06 APRIL 2014

Goeie môre, U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Piet Slabbert, ZR6PGS, op 31 Maart stil geword het. Piet was lid van die Noord-Wes amateurradioklub. Ons innige simpatie aan sy vrou Kate, hul seun Gerhard, ander familielede en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

REGISTREER HIERDIE NAWEEK VIR DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE – DIE SLUITINGSDATUMS VIR REGISTRASIES IS WOENSDAG 9 EN DONDERDAG 10 APRIL

SKA SAL TYDENS DIE VOLGENDE INTEGNET BESPREEK WORD

SLUITINGSDATUM VIR DIE RAE IS 10 APRIL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

REGISTREER HIERDIE NAWEEK VIR DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE – DIE SLUITINGSDATUMS VIR REGISTRASIES IS WOENSDAG 9 EN DONDERDAG 10 APRIL

Het u geregistreer vir die SARL se konvensie, Algemene Jaarvergadering en die toekenningsdinee? Besonderhede is beskikbaar op die SARL se webtuiste nl. www.sarl.org.za. Die registrasievorm is eenvoudig en u kan d.m.v. internetbankoordrag betaal. Die uitstalling is die grootste van amateurradio verwante gebeurtenisse in onlangse tye en is die hele Saterdag op 12 April oop.

Moenie die Vrydagaand se braai en Saterdagaand se toekenningsdinee misloop nie. Die SARL se Nasionale Konvensie vind van 11 tot 13 April in die Furrow Lane Hotel, Furrowweg 272, Equestria, Pretoria plaas. Maak daarvan 'n uitnaweek en bly in die Furrow Lane oor, dit is 'n groot boetiekhotel om u en u gade te bederf.

Indien u slegs die SARL se AJV op Saterdag 12 April wil bywoon, moet u steeds registreer ten einde gratis toegang tot die terrein te verkry, andersins moet u R25 toegangsgeld betaal. Registrasie vir die AJV is gratis vir SARL-lede. Dit is eenvoudig om te doen. Vul die vorm in wat op die webwerf beskikbaar is.

Indien u slegs die AJV wil bywoon kan SARL-lede 'n e-pos stuur aan admin@sarl.org.za met vermelding van u naam, roepsein en telefoonnommer. Plaas AJV registrasie in die onderwerplyn.

Lede kan ook gedurende kantoorure vir Mariska by 011 675 2393 skakel en hulle naam, roepsein, telefoonnommer en e-posadres voorsien. Registrasie per e-pos en telefoon sluit op Donderdag 10 April 2014 ten einde toe te laat vir verwerking van die inligting.

Indien u egter nie die AJV gaan bywoon nie, voltooi dan asb. so gou moontlik die volmagvorm wat ook op die webwerf beskikbaar is. Indien u onseker is om aan wie die volmag te verleen, kies die President, Sekretaris of een van die Raadslede om u belange te behartig. Indien u onseker is aangaande die proses, skakel Mariska by 011 675 2393 om u te help.

Volmagvorms kan per faks gestuur word na 086 299 0566 tot Donderdag 13 April maar daarna kan dit ook Saterdagoggend by die registrasietafel by die AJV ingehandig word.

SKA SAL TYDENS DIE VOLGENDE INTEGNET BESPREEK WORD

Die eerste skottel van die MeerKatkonstellasie op die SKA-terrein in die Karoo is verlede week ingehuldig. Op Dinsdag 15 April sal Prof. Justin Jones tydens die Integnet praat oor die vordering wat met SKA gemaak is en vrae oor die SKA en die betekenis van MeerKat beantwoord.

Die Integnet sal op Dinsdag 15 April plaasvind en om 19:30 begin. Klubs wat hulle herhaler aan die net wil verbind, moet 'n e-pos stuur aan artoday@sarl.org.za. Sluit by ons aan vir hierdie opwindende op-die-lug byeenkoms van die SARL.

SLUITINGSDATUM VIR INSKRYWING VIR DIE RAE IS 10 APRIL

Die SARL het 'n nuwe aanlynregistrasiestelsel in werking gestel vir die amateurradioeksamen. Kandidate wat wens om die eksamen in Mei af te lê moet die SARL se webtuiste besoek vir besonderhede oor hoe om vir die eksamen te registreer. Die sluitingsdatum vir registrasie is 10 April 2014. Geen laatinskrywings sal aanvaar word nie. Deel asb. hierdie inligting mee aan voornemende kandidate vir die RAE.

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

Na 6 April tree frekwensieveranderings vir Amateur Radio Today inwerking. Op Maandae om 18:30 SAT vervang 3 230 vir 4 895 kHz en op Sondae om 10:00 SAT vervang 17 760 vir 17 660 kHz. Ontvangsrapporte sal waardeer word, stuur dit aan artoday@sarl.org.za.

LIDMAATSKAPAANSOEKE

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
Johanna Cameron ZSL1096
David W Mac Gregor Cameron ZSL1097.
Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.
Lidmaatskaptal van die SARL is tans 1 709.

VOICE OF RUSSIA Sê VAARWEL AAN KORTGOLF

Die kortgolfuitsaaibande het effens dunner geraak nadat Voice of Russia om middernag op 1 April lokale Moskoutyd aan die luggolwe vaarwel toegeroep hret.

In vroeër verslae wat in 2013 gepubliseer is, is berig dat Voice of Russia, vroeër bekend as Radio Moskou, sy kortgolfdiens op 1 Januarie vanjaar sou be-eindig weens besparings in die begroting wat deur Russiese President Vladimir Poetin ingestel is. Op 9 Desember verlede jaar het Poetin 'n dekreet onderteken waarin gestaan het dat die Voice of Russia opgehou het om as 'n offisiële, onafhanklike agentskap te bestaan en en sou ingelyf word met verskeie ander nuusagentskappe as deel van die staatsbeheerde Rossia Segodnya internasionale nuusagentskap.. vanaf 3 Februarie het die Voice of Russia sy kortgolf uitsaaiskedule verkort na 18 uur per dag in Engels, Chinees, Japanees en Viëtnamees. Dit het ook sy digitale kortgolfskedule na 22 muur per dag verkort in Engels, Spaans, Duits, Frans, Hindi, Urdu en Russies.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig gaan wees. Sonvlekke AR2010 en 2014 huisves genoeg energie vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 110.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar 6 m openinge vroeg aand te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

09 April – Afsnydatum vir registrasie vir bywoning van Vrydagaand se braai en Saterdag se toekenningsdinee.
10 April Afsnydatum vir registrasie vir bywoning van slegs die SARL se AJV op Saterdag.
10 April – Sluitingsdatum vir registrasie vir die RAE IN Mei.
11-13 April – Nasionale Konvensie van die SARL.
12 April – Laaste dag vir die instuur van logstate vir die SARL 80 m QSO Geselligheid aan zs5lp@vodamail.co.za.
15 April – Integnet oor SKA om 19:30.
19 April - Laaste dag vir die instuur van logstate vir die RaDAR Kompetisie.
24 Mei - SA AMSAT se RUIMTESIMPOSIUM.

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure sal in die komende week op www.sarl.org.za. beskikbaar wees vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX

======================= Boodskap Eindig =======================

Om u e-pos-inskrywing in hierdie poslys te verwyder of te redigeer gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003